Kom "Leef saam met MY mense"

GROOTfm 90.5 se #LeefSaam inisiatief bring jou nader aan ‘n deel van God se gemeenskap wat ons nie altyd verstaan nie en dan op ‘n afstand oordeel: boemelaars, karwagte, prostitute, honger kinders, persone met ‘n gestremdheid... Ons kyk eerder anderpad, want dit breek ons hart, maar ons glo dis presies wat moet gebeur, want kreatiewe oplossings vloei spontaan juis vanuit ‘n gebreekte hart in verhouding met gebroke mense...

Ons hoop dat ‘n dag in iemand anders se skoene – of gebrek aan skoene – jou ‘n kykie onder die oppervlak van ‘n gemeenskap en onder die vel van iemand sal gee om sodoende ‘n beter begrip en groter empatie te wek.

Ons hoef nie mense te manipuleer of te forseer om te gee nie. Self-ontdekking wakker daardie “ek kan nie anders as om te gee nie” aan. Ons #LeefSaam het dus nooit ‘n goedkoop en kort “doen-net-dit-of-dat” plannetjie aan die einde nie. Die onus is op die persoon om self te besluit wat hy/sy voel hulle moet doen in antwoord op wat hulle gehoor, gesien en beleef het.

#LeefSaam met my mense is die tema van GROOTfm 90.5 se eerste #LeefSaam geleentheid op Woensdag 16 Maart 2016.

#LeefSaam met jou groter gesin of familie, die mense wat werk in en om jou huis – jou huishulp, tuinwerker of die vrou wat jou bejaarde ouer tuis versorg - en leer ken mekaar bietjie beter.

James Melville het getweet oor die vlugteling krisis: “When you have more than you need, build a longer table, not a higher fence.” Dis in ‘n tyd soos hierdie waar ons langer tafels moet bou – nie hoër mure nie!

Die dag het 2 hoof elemente

  1. Plak vir ons ‘n foto op Facebook van jou uitgebreide familie!

    kom-leef-saam-met-my-mense

  2. En leer ken jou mense!
    • Hoeveel kinders het hulle en waar gaan hulle skool?
    • Wat is hulle drome vir hulle kinders en hoe verskil of stem dit ooreen met jou eie drome vir jou kinders?
    • Het hulle ‘n Bybel in hulle moedertaal of lees-taal?
    • Het jy al by hulle huis gekuier en weet jy hoe lyk dit daar?
    • Waarvoor is hulle bang en wat maak hulle bly?
    • Wat maak hulle kwaad van mense van ‘n ander kultuur/kleur/taalgroep?
    • Hoekom hou hulle van Suid-Afrika en wat dink hulle sal ons land ‘n beter plek maak?

God nooi ons nie net om te doen nie. Hy nooi ons om saam met Sy kinders te leef. Hy ontmoet ons daar waar mense swaarkry en Hy verander ons. Die “wat” om te doen en “hoe” om dit te doen sal dalk makliker gebeur as mense dit net eers bietjie nader waag...

 

Kliek hier om die PDF af te laai

Gaan terug na die Projekte bladsy.