Nuwe SEB-kodes kan ekonomie vernietig, sê AfriSake

IMG 1043

                                                                         Foto: Mia Slabbert

29 Julie 2015

 

- Mediaverklaring van AfriSake

 

Die nuwe SEB-kodes kan die laaste spyker in die kis vir die Suid-Afrikaanse ekonomie wees. Dit is die mening van die sakeregtewaghond, AfriSake, na afloop van die instelling se SEB vs Besigheid-konferensie. 

 

Hierdie standpunt is deur ʼn verskeidenheid kundiges gedeel wat die meer as 400 konferensiegangers toegespreek het.

 

Volgens Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriSake, is die nuwe SEB-kodes ʼn slinkse manier om entrepreneurs van hulle ondernemings te onteien. Gesien in die lig van ander wetgewing wat eiendomsreg ondermyn, beïnvloed die nuwe SEB-kodes privaat eiendomsreg op ʼn nog meer ingrypende wyse.

 

Die nuwe SEB-kodes is regulasies wat ten doel het om entrepreneurs en ondernemings te dwing om afstand van hul meerderheidsbesit te doen. Verder verwag die kodes dat tot en met 80% van maatskappye se aankope van sogenaamde swart ondernemings moet wees.  Die gevolg is dat dit onmoontlik gaan word vir enige iemand wat nie swart is nie, om ʼn onderneming te begin, besit en te bestuur.

 

Volgens die ekonoom en hoofstrateeg van ETM Analitics, Russel Lamberti, gaan die implementering van die SEB-kodes die sukkelende ekonomie oor die afgrond dryf. Suid Afrika het ʼn gesonde en sterk entrepreneursklas en sakesektor nodig. Hierdie kodes gaan dit uiters moeilik maak om sake in Suid Afrika te doen.

 

Dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die Instituut vir Rasseverhoudinge, het haar onlangse navorsing oor SEB bespreek. Volgens dr. Jeffery het SEB klaaglik misluk. ”Ons navorsing dui daarop dat SEB nie werklik ʼn impak op armoede die afgelope 10 jaar gehad het nie. Dit het duidelik ʼn baie groter voordeel vir die politieke elite van die ANC ingehou as vir die arm massas”. Volgens dr. Jeffery sou ʼn bemagtigingsbeleid wat op armoedeopheffing fokus ʼn baie groter impak gemaak het.

 

Piet le Roux, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het aangedui dat die SEB niks anders as Regstellende Aksie (”Affrimative Action”) vir entrepreneurs is nie. Net soos ”Affirmative Action”, beoog die SEB-kodes dat sakeondernemings uiteindelik die rassedemografie van Suid-Afrika weerspieël. Volgens Le Roux is die rasgebaseerde toedeling van hulpbronne in die ekonomie skadelik vir al die verbruikers.

 

Frans Nortjé, ʼn onafhanklike SEB-konsultant het ʼn in-diepte ontleding van die SEB-kodes gedoen. Volgens die ontleding fokus die nuwe SEB-kodes op die volgende:

 

·         Wesenlik groter klem op swart eienaarskap en swart bestuursverteenwoordiging.

·         Verdubbeling van teikens vir vaardigheidsontwikkeling (maar net op swart werknemers van toepassing).

·         Instelling van 'n Begroting vir Swart Verskaffersontwikkeling (teenoor voorheen veel wyer omskrewe ondernemingsontwikkeling).

·         Wesenlik strenger teikens vir Voorkeurverkryging (”Preferential Procurement”), met verskuiwings in aankope wat van ondernemings in swart besit en in die besit van swart vroue vereis word, asook ondernemings met 'n omset van minder as R10 miljoen en R50 miljoen (onderskeidelik VKO’s [”Exempted Micro Enterprises”]) en KKO’s [”Qualifying Small Enterprises”]).

·         Wesenlik strenger maatstawwe / voldoeningsteikens, asook die invoering van penalisering as minimum voldoeningsteikens nie gehaal word nie.

Omdat alle groepe geraak word, behoort almal betrokke te raak om ʼn katastrofiese scenario te vermy. Volgens AfriSake is daar vier elemente waarop daar gefokus moet word om die implementering van die nuwe kodes te stuit:

 

1    Burgerregte-organisasies moet poog om Korporatiewe Suid-Afrika te oortuig om nie die huidige weergawe van die Hersiene Kodes te implementeer nie. Hulle moet streef om die beskerming van basiese ekonomiese regte vir die minderheid-samelewing te verseker. Een moontlike reaksie is om die wettigheid en grondwetlikheid van die Hersiene Kodes in die howe te toets. Openbare druk moet ook gegenereer word om blatante diskriminasie as gevolg van die kodes bloot te stel.

 

2    Korporatiewe Suid-Afrika moet morele leierskap bied om 'n werkbare alternatief te kry wat lei tot versnelde groei en ekonomiese vooruitgang van al Suid-Afrika se armes. Hulle moet een van drie benaderings oorweeg:

 

a)    nie verder as SEB Vlak 4 probeer gaan nie (omdat dit beteken dat hulle daadwerklik ontslae raak van hulle WAB-werkmag en ‑verskaffers);

b)    weier om volgens die hersiene telkaart gemeet te word en voortgaan om telkaarte ingevolge die vorige kodes uit te reik; of

c)    hulle eie bemagtigingsmetings saamstel deur EBB-beginsels (Ekonomiese Bemagtiging van Benadeeldes) te gebruik.

 

Op die heel minste moet Korporatiewe Suid-Afrika standpunt teen die onwerkbare kodes inneem en hulle daartoe verbind om irrasionele aspekte nie te implementeer nie totdat werkbare alternatiewe gevind is.

 

3    Wit, nie-RSA-Afrika- en ander buitelandse ondernemings moet standpunt inneem teen die marginalisering van hulle ekonomiese regte.Dit kan ten beste gedoen word deur burgerregte-organisasies te ondersteun en met hulle saam te werk. WAB’s moet daadwerklik geleenthede buite Suid-Afrika soek benewens hulle plaaslike belange. Hulle moet 'n skeiding maak tussen die besigheidstrukture waardeur vlaksensitiewe en nie-sensitiewe sake gedoen kan word. Hierdie ondernemings moet die voorbeeld stel deur aan te hou belê in die ontwikkeling van al hulle werknemers, ongeag ras, rasionele keuses vir belegging (en kapitaalinsameling) maak en pragmaties bly ten einde die voortbestaan van hulle besighede te verseker. Hulle moet beskikbare opsies verstaan, kompromieë deeglik oorweeg en struktureer om toekomstige aanpasbaarheid te bied.

 

4    Swart Suid-Afrikaanse entrepreneurs moet aandring op gelyke deelname aan die ekonomie deur almal, ongeag ras. Verder behoort hulle die swak denke en wetenskap waarop die Hersiene Kodes berus, vanuit 'n ekonomiese perspektief te ontbloot. 

      LUISTER HIER NA DIE KLANKGREPE (versamel deur Mia Slabbert): 

      https://soundcloud.com/grootfm/nuus-afrisake-russell

      https://soundcloud.com/grootfm/nuus-cornelius-jansen-van-rensburg

      https://soundcloud.com/grootfm/nuus-dr-anthea-jeffery

     

 

Add comment


Security code
Refresh