Ons span van GROOTfm 90.5 voel geroep om in 2018 te bou – geboue en strukture, gemeenskappe en verhouding,  langer tafels en beter huwelike en getrou aan ons #HOOPstootprojek se kriteria, wil ons bou op die werk wat mense reeds gedoen het en dit wat God reeds begin het!  Ons eerste BOUprojek, Plastic City of Woodlane Village, soos sommige daarna verwys, mag dalk ‘n plek wees waar julle saam met mekaar en saam met ons ‘n verskil kan maak.

Hierdie informele nedersetting het in 2009 tot stand gekom met Colin en Denise van die NPO Tswelopele (Step-by-Step) se ingryping.  Die mense het in die bosse gebly in nog erger omstandighede vóór die village daar was. Met die tot standkoming van die village was daar 3000 geregistreerde inwoners en 865 shacks.  Vandag is daar na beraming ongeveer 50007000 mense op hierdie 8 hektaar stuk grond met slegs 4 water tenks en 1 toilet per 150 – 200 mense.

Daar is honderde voorskoolse kinders tot die ouderdom van 6 jaar oud wat sonder toesig in die village ronddwaal en in die vrot water en rommel speel.  Hulle het opgewonde hulle sprinkaan in die plastiek koeldrankbottel vir my kom wys voor ‘n kwaai ma hulle weer teruggeroep het van die hoop vullis waar hulle buite gespeel het. Kinders word sommer te koop aangebied vir ‘n vreemdeling soos ek.  By die kliniek, onder leiding van Dr Ellenore Meyer en haar span, kom jy agter hoeveel gesinsgeweld en tienerswangerskappe daar is.

Dis hierdie einste haglike omstandighede wat Sanet Fagan van SA Cares for Life aan die hart gegryp het en gelei het tot hulle betrokkenheid met ‘n strategie wat van binne af buite toe werk.  Sy het die eerste dag wat sy daar aangekom het by die mense in hulle plastiekhuisies gaan sit om te hoor hoe hulle die nood beleef.  “Veiligheid vir ons vrouens en ‘n skool vir ons kinders,” was hulle eenvoudige versoek en as ons van buite af instorm met ‘n antwoord wat vir ons reg klink, kan ons die vraag soms heeltemal mis…

Saam met Sanet en een van haar cluster workers, Pretty, het ek ook so op ‘n bed by ‘n mamma gaan sit wie se babatjie twee dae tevore gebore is.  Pretty het gehelp dat sy by die hospitaal kom, dit het gereën en die ambulans gaan nie sommer daar in nie.  By die ander plastiekhuisie het ons op die vloer gesit om planne te maak.  Die vrou moes vlug van haar man wat haar en haar kind mishandel.  Hoe sal sy die R200 per maand bekostig vir hierdie plastiek seil oor haar en haar kind se kop?

Terwyl hofsake sloer en almal gesprekke voer rondom die skuif van die village, is ons hart by die kinders wat bitter swaar kry en om die werk wat SA Cares for Life doen ‘n HOOPstoot te gee in die vorm van ‘n container skool met al die nodige skryfbehoeftes en opvoedkundige materiaal – ‘n container wat ons altyd weer kan skuif as die besluit oor die grond en mense finaal geneem is.

Soos met soveel ander uitdagings in ons stad en land, kan ons nie alles vir almal probeer wees nie, maar ons wil ook nie nalaat om dit wat ons wel vir iemand in nood kan doen, te doen nie en daarom wil ek jou en jou maat uitnooi om saam met ons te bou aan ‘n stukkie vaste Hoop in Plastic City.