Groot Nuus Blog

Groot Nuus Blog ( Profiel )

96 0 0

GoeieNuusVrydaglogo

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

#GNV - 1 JULIE 2016

~ Ouers en vriende van die Hoërskool Menlopark in Pretoria se skoolkoor kan hierdie week net van groot dankbaarheid getuig. Die skoolkoor wat Dinsdag via Turkye na Rusland gevlieg het om aan die komende Wêreldkoorspele in Sochi deel te neem het hulle bestemming veilig bereik, ná kommer oor hul veiligheid weens die aanval op die Ataturk-lughawe in IstanbulMinstens 44 mense is dood en meer as 200 is gewond toe drie selfmoord-bomaanvallers toegeslaan het. Die skool se adjunkhoof Nico Erasmus sê die vlug waarop die koorlede was het wel op díe lughawe geland, maar dat hulle buite gevaar was.  Een van die koor se lede Suné Stander het kort voor hul vertrek met #GROOTnuus oor hul voorbereiding vir die Wêreldkoorspele gepraat.

~ As diamante ‘n vrou se beste vriend is, dan het die bekende aktrise Shaleen Surtie-Richards meer as ‘n beste vriend in Mr Kruger ontmoet.  Mr Kruger wat ’n spesialis in juweliersware is, se eienaar, Arno Egen van Pretoria, sê hy het besluit om aan te bied om haar juwele op Mr Kruger se onkoste te vervang, toe hy gehoor het dat Shaleen in Januarie deur ’n straatsmous van juwele met baie sentimentele waarde beroof is, terwyl sy in ’n motor gesit het.  Shaleen sê sy is baie dankbaar teenoor Mr Kruger en veral Arno vir die juweliersware wat sy vroeg in Junie-maand as geskenk gekry het.

~ Die Kleintreetjies Kleuterskool in Booysens in Pretoria se probleme met betroubare vervoer vir die kinders is iets van die verlede, na ‘n vrygewige skenking.  HW Theron Ingelyf in Monument Park het op die 8ste Junie ‘n minibus ter waarde van sowat R300k aan die kleuterskool oorhandig.  HW Theron Ingelyf se direkteur, Hennie Theron het in Desember 2014 reeds betrokke geraak by díe kleuterskool toe hy as deel van GROOTfm 90.5 se HOOPstoot-projek ‘n rekenaar en drukker wat hulle nodig gehad het voorsien het, en ook die personeel van die skool bederf het met die “Versorg die Versorger”-projek. Hennie sê hy wil die skool in staat stel om die goeie werk in die gemeenskap voort te sit.

~ Suid-Afrikaanse vlieëniers, ‘n vlug-ingenieur, ‘n dokter en ‘n paramedikus het hierdie maand geskiedenis gemaak toe hulle ‘n uiters siek baba per vliegtuig op die eiland Saint Helena gaan oplaai het.  Lede van die nooddiens ER24 se lug-mediese diens, Global Assist, het in samewerking met die Brits-beheerde eiland se regering op die nuwe lughawe geland, wat weens gevaarlike en onvoorspelbare weerstoestande nog nie vir handelsvlugte oopgestel kon word nie. ER24 se Werner Vermaak sê die baba en sy ma is na ‘n Kaapstadse hospitaal geneem vir behandeling.

~ Duisende voormalige lede van Suid Afrika se grootste boekklub het gejuig toe hulle die nuus hoor dat Leserskring/Leisure Books binnekort gaan heropen. Die aankondiging kom sowat 3 maande nadat die geliefde instansie ná 35 jaar gesluit het. Uitvoerende Hoof, Lana Barnett wat aan die stuur van sake bly sê die klubs wat sedert hul ontstaan in 1980 reeds veertig miljoen boeke verkoop het, sal amptelik in Augustus weer bekendgestel word.

~ ‘n Merkwaardige jong man, Louis Lingenfelder, wat fondse insamel vir die Downsindroom  Vereniging Pretoria, het mense van die stad aan die hart gegryp. Louis wat self Downsindroom het, het ‘n donasie boks-projek geskep, toe hy besef het dat die vereniging se geld min raak, en dat gratis terapie wat tans deur uitreikprojekte in Ga-Rankuwa, Atteridgeville en Lyttelton aangebied word, heel moontlik ingeperk sal moet word omdat daar nie fondse beskikbaar is nie. Die Downsindroom se voorsitter Magda Lourens sê hulle is dankbaar vir Louis se inisiatief, omdat die vereniging ‘n tekort van omtrent R80k het om die gratis terapie te kan volhou.

~ As jy nie tyd het om lang nuusberigte te lees nie, maar graag op hoogte wil bly van die jongste nuusgebeure, is daar ‘n nuwe toepassing of app wat die manier waarop jy nuus lees, ten goede gaan verander. Die Afrikaanse nuus-app NetNuus wat onlangs bekend gestel is, se produkredakteur MJ Lourens sê dit is die eerste produk van sy soort in Suid-Afrika wat dié leemte as ’n vinnige en gebruikersvriendelike nuus-app vul, wat die jongste inligting in ’n kits aan lesers bied en ook aan verbruikers die geleentheid gee om saam met ander oor die nuus te gesels.  NetNuus is gratis beskikbaar in die iTunes- en die Google Play app winkels.

~ ‘n Jong Pretoriase man se droom om sy studies te voltooi kan nou bewaarheid word as gevolg van die omgee van ‘n liefdadigheidsorganisasie.  Die man van Elandspoort wat verlede jaar by ‘n hoërskool vir leergestremde kinders was, het vanjaar by ‘n tegniese opleidingskollege begin studeer om ‘n sweiser te word. Solidariteit Helpende Hand het hom gestuur vir evaluering, omdat hy tydens die eksamentyd baie gesukkel het. Helpende Hand se Forika Meissenheimer sê die terapeut wie hom getoets het was verbaas dat hy so ver gevorder het, aangesien hy wanneer dit by lees en skryf kom die gemiddeld van ‘n 8-jarige kind het, maar omdat hy werklik baie goed is met sy hande is daar goedkeuring gegee dat hy sy vraestelle mondelings kan aflê.

~ ‘n GROOTfm 90.5-luisteraar, Tania Bester is dankbaar dat haar seuntjie leef en gesond is, nadat hy amper dood is toe hy in Februarie baie siek geword het. Hy het aanhoudend opgegooi en hulle moes hom ‘n paar keer hospitaal toe neem, omdat hulle nie kon agterkom wat fout is nie. Puik dokters by ‘n staatshospitaal het egter vasgestel dat daar ‘n abses groter as ‘n golfbal op sy blindederm was. Tania sê die dokter wat die operasie gedoen het, beskryf die feit dat haar kind oorleef het, as ‘n wonderwerk.

~ Die Erika Volkspele-laer in Pretoria, wat een van die oudste volkspele-laers in ons land is, het sy 75ste bestaansjaar gevier. Die ATKV Centurion Musiekforum wat al vir baie jare kultuurvennote van die laer is, se Sakkie Kotze wat self voorheen lid van die Nasionale Raad vir Volksang en Volkspele was, sê dit is ‘n besonderse mylpaal vir die Afrikaanse taal en kultuur in die stad.

~'n Kattekoor van dankbaarheid weerklink hierdie maand te danke aan goeie mensharte. Die diere-reddingsorganisasie CatzRus wat hawelose katte inneem, versorg en dan liefdevolle huise vir die diere vind, het ‘n suksesvolle fondsinsamelings-konsert die afgelope naweek gehou waartydens onder meer die bekende sanger Dozi opgetree het. Die organisasie samel tans fondse in omdat hulle na meer as tien jaar by hulle huidige perseel in Pretoria, ‘n nuwe tuiste moet vind, om sodoende hul aktiwiteite te kan uitbrei. Catzrus se voorsitter, Jacques Du Plessis sê dat hulle in die laaste tien maande alleen ongeveer 500 katte ingeneem, en reeds vir meeste van hulle liefdevolle huise gevind het.

~ ‘n Jong man van Pretoria wil sy storie van hoop met die wêreld deel, van hoe hy sy jare lange dwelmverslawing oorkom het. Theo Nel wat 26-jaar oud is, sê hy was vir amper tien jaar lank op dwelms, en dat hy veral ander jong mense se harte wil aanraak.

~ Afrikaanssprekendes is opgewonde oor ‘n nuwe beurs- en studiefonds wat vir studente geskep is wat in dié taal wil studeer. Die studiefonds is gestig nadat die Universiteite van Stellenbosch, Pretoria en die Vrystaat besluit het om Afrikaans as onderrigmedium af te skaf.  Nasionale projekkoördineerder, Morné Mostert sê donateurs en alumni wat ʼn bydrae tot die fonds wil lewer, sal nie net ʼn verskil in Afrikaanssprekende studente se lewens maak nie, maar ook ʼn verskil in die bevordering en ontwikkeling van Afrikaans teweegbring.

Morné sê AfriForum Jeug het onlangs ook aangekondig dat vier Afrikaanssprekende studente aan vier van die land se top hoëronderwysinstellings, elk  ʼn beurs kan wen.

~ Vir meer as 25 jaar vereer die Centurion raad vir bejaardes elke jaar ‘n Senior Burger vir onbaatsugtige gemeenskapsdiens, en word ‘n trofee – bekend as die Arrie Nel wisseltrofee – vir die Senior burger van die jaar toegeken. Die raad se direkteur dr Elma Krüger sê twee vroue – Rina van der Heever en Ansie Subke, het die trofee vanjaar ontvang vir hulle vrywillige werk vir die Lyttleton dienssentrum.

~ Daar is goeie nuus vir Suid-Afrikaners wat lief is daarvoor om tyd in die natuur te spandeer, en wat lief is vir ons land se renosters. ‘n Unieke inisiatief gee die publiek die geleentheid om finansieël by te dra tot renoster-bewaring deur te gaan kamp of ’n naweek in ’n 3-ster lodge op ’n wildsplaas te spandeer.  Rhino Connect se woordvoerder, Karin Venter sê elke bespreking dra by tot die inkomste van privaat renoster-eienaars se wildsplase, wat hulle in staat stel om meer sekuriteit aan te stel om die diere te beskerm. Karin het ook ‘n beroep op mense gedoen om te help om ons renosters vir ons nageslag te bewaar deur betrokke te raak by renoster-bewaring.

~ Pretorianers is erg trots op twee professionele boogskutters van Pretoria.  Seppie Cilliers van die Universiteit van Pretoria se boogskietklub het deurgedring om Suid-Afrika vanjaar op die wêreldbeker-finaal te verteenwoordig. Seppie se spanmaat Shaun Anderson wat net een arm het, en Suid-Afrika en Afrika se voorste gestremde boogskut is, is ook besig om voor te berei om die land te verteenwoordig. Shaun is gekies om aan vanjaar se Paralimpiese Somerspele in September in Rio de Janeiro in Brasilië deel te neem. 

~ ‘n Paar dapper Pretorianers het op die tiende Junie die koue trotseer om Child Welfare Tshwane se ‘uitslaap in die koue’-inisiatief  te ondersteun, en ook meer te leer van die organisasie se werksaamhede. Child Welfare Tshwane wat weerlose kinders in die stad versorg en maatskaplike dienste aanbied wat daarop gemik is om familiebande te verstewig, se bemarkingsbestuurder, Hanlie Delport sê daar is tydens díe aksie in die tuin van die Bramley Kinderhuis gekuier en sommige van die besoekers het selfs in die tuin oornag.

~ ‘n Luisteraar, Heinrich Pretorius, wat sy skouer spiere afgeskeur het toe hy met sy fiets geval het, deel sy goeie nuus dat hy so goed herstel het, dat hy sterker is as ná die ongeluk.

~ ’n Nuwe webtuiste, afrikaans.com is geskep om as ’n vertrekpunt vir alles wat met Afrikaans te doen het te dien, waar jy die taal kan vier en verken.  Woordvoerder Heinrich Wyngaard sê dit vorm deel van die Dagbreek Trust, in samewerking met enersdenkende organisasies en rolspelers, se omvattende veldtog om Afrikaans opnuut stukrag te gee, en as ʼn sterk handelsmerk te vestig.

~ ‘n Dapper Gautenger wat nou as ‘n held beskou word, het die lewe van ‘n vrou en haar baba gered, sonder om twee keer te dink.  Madeleine van der Vyver en haar ma het in Centurion in hulle motor by ‘n rooi verkeerslig gesit, toe hulle sien hoe ‘n vrou beheer oor haar voertuig verloor en in ‘n dam beland. Madeleine het uit haar motor gespring en na die dam toe gehardloop en ingespring om die vrou te probeer red. Toe sy by die voertuig kom het sy ‘n baba binne hoor huil, en sy kon met ‘n groot gesukkel uiteindelik die kattebak oop kry, waar sy eerste die baba kon uitkry en na die oewer kon neem. Sy het daarna terug geswem om die vrou te probeer red, terwyl die motor besig was om te sink, en sy kon gelukkig daarin slaag om haar ook veilig uit te kry.

~ Op die 1ste Julie in 2013 het ‘n klomp vreemdelinge met uiteenlopende talente op hul eerste werksdag saam, bymekaar gekom om die fondasie te begin lê vir ‘n nuwe radiostasie wat die volgende maand sou begin – dit was die personeel van GROOTfm 90.5. Inhoudsbestuurder, Francois Botha, wat van dag een af by die radiostasie betrokke is, sê vandag is dit drie jaar later -  daar het vele gesigte by die span aangesluit en die stasie het baie vooruitsigte vir die toekoms.

4572 hits

IMG 1770

   Staatsaanklaer Gerrie Nel verlaat hof G-A van die Noord-Gautengse Hooggeregshof, gevolg deur Nico Henning. Foto: Mia Slabbert

 

 

5 Oktober 2015

 

 

Die verhoor van Nico Henning, wat daarvan beskuldig word dat hy die baasbrein agter sy vervreemde vrou Chanélle Henning se moord is, is vanoggend in die Noord-Gautengse Hooggeregshof tot 6 Junie volgende jaar uitgestel.

 

 

Henning se verhoor was veronderstel om vandag te begin. Die sakeman is tans uit op borgtog van R10-miljoen. Staatsaanklaer Advokaat Gerrie Nel het vir die uitstel gevra en gesê die staat en die verdediging stem saam vir die uitstel. Hoewel dit nie in die hof gesê is nie, verstaan het GROOTnuus by ‘n betroubare bron gehoor dat die staat nog ‘n paar goed in hul ondersoek moet finaliseer.

 

 

Chanélle Henning is tydens ‘n beweerde sluipmoord in 2011 voor haar seun se kleuterskool in Faerie Glen, in die ooste van Pretoria, doodgeskiet.

 

 

Haar pa, Ivan Saincic, het buite die hof gesê die uitstel is nie lekker nie.

 

 

Luister hier na die klankgreep:

 

 

https://soundcloud.com/grootfm/nuus-ivanchanelle

 

 

Chanelle se ma, Sharon, sê die seun , wat vier was toe sy ma vermoor is, kry veral nou swaar.

 

 

Luister hier na die klankgreep:

 

 

https://soundcloud.com/grootfm/nuus-sharonchanelle

 

 

 

- Mia Slabbert

 

5419 hits

Gelooftog02blog

                                                          Jurie Pieters in 2014. Foto: Mia Slabbert

28 September 2015

Die sogenaamde geloofstapper Jurie Pieters het erken dat hy barmhartiges regoor Suid-Afrika met leuens bedrieg het.

Pieters het op sosiale media op sy Facebook-blad geskryf, dat hy nie siek is nie, en dat hy net aandag wou kry. Hy het vroeër beweer hy het al meer as 21-duisend kilometer oor die land gestap, nadat hy glo twee-jaar gelede met breinkanker gediagnoseer is.

Hy het vir die afgelope twee-jaar van liefdadigheid oor-eef en onder meer motiveringpraatjies by skole gedoen. GROOTnuus het al verskeie kere oor Pieters se gelooftog berig, en het ook vir hom die rooi rugsak gekoop, waarmee hy op talle foto’s pronk.

Pieters is onlangs tydens ‘n gratis besoek aan ‘n gastehuis in Pretoria deur polisie verwyder, nadat die eienaar van die gastehuis, Rosemarie van Staden, onraad vermoed het.

Luister hier na Van Staden se ervaring met Pieters:

https://soundcloud.com/grootfm/nuus-jurie-blog

 

Pieters het ook glo aan Van Staden gesê dat hy nooit ‘n vrou en kinders gehad het wat, soos hy beweer het, op sy verjaarsdag dood verongeluk het nie.

Pieters se foon is sedert die 19de September af, wat die dag is wat hy die Facebook-inskrywing gemaak het, en hy kon nie vir kommentaar bereik word nie.

- Mia Slabbert

3871 hits

polisiewreedheid

     'n Skermgreep van die video wat beweerde polisiewreedheid teenoor twee mans wys. Video: YouTube

 

 

26 Augustus 2015

 

 

‘n YouTube-video wat wys hoe twee jong mans na bewering deur polisiebeamptes van die Douglasdale-polisiekantoor aangeval word, is binne net ‘n paar dae al meer as 150-duisend keer gekyk.

 

In die video, wat skelm afgeneem is deur een van die mans, word daar gesien hoe twee polisiebeamptes die man se vriend na bewering aanrand en selfs dreig om sy been te breek.

 

Die video, wat op die YouTube-blad opgelaai is, wys hoe die twee mans, wat die skuilname Anton en Shane gebruik, deur die polisiemanne gedreig word. Die man smeek die polisie in ‘n stadium om nie sy vriend se been te breek nie.

 

Die video is verlede week op 18 Augustus in die vroeë oggendure geneem toe die mans op pad huis toe was nadat hulle ‘n nagskof gewerk het en toe glo hardhandig deur die polisie aangeval is.

 

Volgens Shane, die man wat die video geneem het, het die polisiebakkie agter hul motor stilgehou met twee polisiebeamptes wat na glo aan hulle gesê het om uit te klim.

 

Shane sê hy het vinnig uit die kar geklim, maar Anton het stadiger uitgeklim. Dit is na bewering toe wat Anton aggressief uit die kar gepluk is deur een van die polisie manne.

 

Luister na Shane se eie woorde oor wat toe gevolg het:

 

https://soundcloud.com/grootfm/shane1-1

 

Volgens Shaun is dit waar hy besef het die situasie is baie ernstig en gevaarlik en het toe besluit om sy selfoon uit te haal.

 

Luister na presies hoe Anton aangeval is:

 

https://soundcloud.com/grootfm/shane2-1

 

Die video wys hoe Anton na hulp skreeu en sê dat hy nie asem kan kry nie terwyl ‘n polisieman hom na bewering wurg.

 

In die video kan mens ook sien hoe ‘n bewustelose Anton se broek afgetrek word en hy voor en agter ondersoek word en bevat ook foto’s van verskeie kneusplekke op sy lyf.

 

Volgens die mans se regsverteenwoordiger, Nico Venter, het hulle ‘n saak teen die polisiemanne gemaak van onder meer aanranding en seksuele aanranding, asook diefstal.

 

Luister hoekom diefstal ook een van die klagtes is:

 

https://soundcloud.com/grootfm/shane3-1

 

Luister: Shaun sê hy sal nooit weer die polisie kan vertrou nie.

 

https://soundcloud.com/grootfm/shane4

 

 

*** Gaan na die volgende skakel om die video te sien: WAARSKUWING: Die video bevat geweld en vloekery en kan sensitiewe kykers ontstel.***

 

https://www.youtube.com/watch?v=gWwZpEO4hqw

 

 

 

- Mia Slabbert

 

 

2382 hits

IMG 1043

                                                                         Foto: Mia Slabbert

29 Julie 2015

 

- Mediaverklaring van AfriSake

 

Die nuwe SEB-kodes kan die laaste spyker in die kis vir die Suid-Afrikaanse ekonomie wees. Dit is die mening van die sakeregtewaghond, AfriSake, na afloop van die instelling se SEB vs Besigheid-konferensie. 

 

Hierdie standpunt is deur ʼn verskeidenheid kundiges gedeel wat die meer as 400 konferensiegangers toegespreek het.

 

Volgens Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriSake, is die nuwe SEB-kodes ʼn slinkse manier om entrepreneurs van hulle ondernemings te onteien. Gesien in die lig van ander wetgewing wat eiendomsreg ondermyn, beïnvloed die nuwe SEB-kodes privaat eiendomsreg op ʼn nog meer ingrypende wyse.

 

Die nuwe SEB-kodes is regulasies wat ten doel het om entrepreneurs en ondernemings te dwing om afstand van hul meerderheidsbesit te doen. Verder verwag die kodes dat tot en met 80% van maatskappye se aankope van sogenaamde swart ondernemings moet wees.  Die gevolg is dat dit onmoontlik gaan word vir enige iemand wat nie swart is nie, om ʼn onderneming te begin, besit en te bestuur.

 

Volgens die ekonoom en hoofstrateeg van ETM Analitics, Russel Lamberti, gaan die implementering van die SEB-kodes die sukkelende ekonomie oor die afgrond dryf. Suid Afrika het ʼn gesonde en sterk entrepreneursklas en sakesektor nodig. Hierdie kodes gaan dit uiters moeilik maak om sake in Suid Afrika te doen.

 

Dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die Instituut vir Rasseverhoudinge, het haar onlangse navorsing oor SEB bespreek. Volgens dr. Jeffery het SEB klaaglik misluk. ”Ons navorsing dui daarop dat SEB nie werklik ʼn impak op armoede die afgelope 10 jaar gehad het nie. Dit het duidelik ʼn baie groter voordeel vir die politieke elite van die ANC ingehou as vir die arm massas”. Volgens dr. Jeffery sou ʼn bemagtigingsbeleid wat op armoedeopheffing fokus ʼn baie groter impak gemaak het.

 

Piet le Roux, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het aangedui dat die SEB niks anders as Regstellende Aksie (”Affrimative Action”) vir entrepreneurs is nie. Net soos ”Affirmative Action”, beoog die SEB-kodes dat sakeondernemings uiteindelik die rassedemografie van Suid-Afrika weerspieël. Volgens Le Roux is die rasgebaseerde toedeling van hulpbronne in die ekonomie skadelik vir al die verbruikers.

 

Frans Nortjé, ʼn onafhanklike SEB-konsultant het ʼn in-diepte ontleding van die SEB-kodes gedoen. Volgens die ontleding fokus die nuwe SEB-kodes op die volgende:

 

·         Wesenlik groter klem op swart eienaarskap en swart bestuursverteenwoordiging.

·         Verdubbeling van teikens vir vaardigheidsontwikkeling (maar net op swart werknemers van toepassing).

·         Instelling van 'n Begroting vir Swart Verskaffersontwikkeling (teenoor voorheen veel wyer omskrewe ondernemingsontwikkeling).

·         Wesenlik strenger teikens vir Voorkeurverkryging (”Preferential Procurement”), met verskuiwings in aankope wat van ondernemings in swart besit en in die besit van swart vroue vereis word, asook ondernemings met 'n omset van minder as R10 miljoen en R50 miljoen (onderskeidelik VKO’s [”Exempted Micro Enterprises”]) en KKO’s [”Qualifying Small Enterprises”]).

·         Wesenlik strenger maatstawwe / voldoeningsteikens, asook die invoering van penalisering as minimum voldoeningsteikens nie gehaal word nie.

Omdat alle groepe geraak word, behoort almal betrokke te raak om ʼn katastrofiese scenario te vermy. Volgens AfriSake is daar vier elemente waarop daar gefokus moet word om die implementering van die nuwe kodes te stuit:

 

1    Burgerregte-organisasies moet poog om Korporatiewe Suid-Afrika te oortuig om nie die huidige weergawe van die Hersiene Kodes te implementeer nie. Hulle moet streef om die beskerming van basiese ekonomiese regte vir die minderheid-samelewing te verseker. Een moontlike reaksie is om die wettigheid en grondwetlikheid van die Hersiene Kodes in die howe te toets. Openbare druk moet ook gegenereer word om blatante diskriminasie as gevolg van die kodes bloot te stel.

 

2    Korporatiewe Suid-Afrika moet morele leierskap bied om 'n werkbare alternatief te kry wat lei tot versnelde groei en ekonomiese vooruitgang van al Suid-Afrika se armes. Hulle moet een van drie benaderings oorweeg:

 

a)    nie verder as SEB Vlak 4 probeer gaan nie (omdat dit beteken dat hulle daadwerklik ontslae raak van hulle WAB-werkmag en ‑verskaffers);

b)    weier om volgens die hersiene telkaart gemeet te word en voortgaan om telkaarte ingevolge die vorige kodes uit te reik; of

c)    hulle eie bemagtigingsmetings saamstel deur EBB-beginsels (Ekonomiese Bemagtiging van Benadeeldes) te gebruik.

 

Op die heel minste moet Korporatiewe Suid-Afrika standpunt teen die onwerkbare kodes inneem en hulle daartoe verbind om irrasionele aspekte nie te implementeer nie totdat werkbare alternatiewe gevind is.

 

3    Wit, nie-RSA-Afrika- en ander buitelandse ondernemings moet standpunt inneem teen die marginalisering van hulle ekonomiese regte.Dit kan ten beste gedoen word deur burgerregte-organisasies te ondersteun en met hulle saam te werk. WAB’s moet daadwerklik geleenthede buite Suid-Afrika soek benewens hulle plaaslike belange. Hulle moet 'n skeiding maak tussen die besigheidstrukture waardeur vlaksensitiewe en nie-sensitiewe sake gedoen kan word. Hierdie ondernemings moet die voorbeeld stel deur aan te hou belê in die ontwikkeling van al hulle werknemers, ongeag ras, rasionele keuses vir belegging (en kapitaalinsameling) maak en pragmaties bly ten einde die voortbestaan van hulle besighede te verseker. Hulle moet beskikbare opsies verstaan, kompromieë deeglik oorweeg en struktureer om toekomstige aanpasbaarheid te bied.

 

4    Swart Suid-Afrikaanse entrepreneurs moet aandring op gelyke deelname aan die ekonomie deur almal, ongeag ras. Verder behoort hulle die swak denke en wetenskap waarop die Hersiene Kodes berus, vanuit 'n ekonomiese perspektief te ontbloot. 

      LUISTER HIER NA DIE KLANKGREPE (versamel deur Mia Slabbert): 

      https://soundcloud.com/grootfm/nuus-afrisake-russell

      https://soundcloud.com/grootfm/nuus-cornelius-jansen-van-rensburg

      https://soundcloud.com/grootfm/nuus-dr-anthea-jeffery

     

 

2313 hits