“Ons voed omtrent 400 van ons 480 kinders twee keer per dag…”

“Ons skool is omring deur 6 informele nedersettings…”

“85% van ons kinders is baie behoeftig…”

“304 gesinne het hierdie jaar aansoek gedoen vir volle kwytskelding van skoolfonds…”

“80 leerders ontvang daagliks twee etes per dag by die skool en kospakkies vir die vakansietye…”

“Ons behoeftige leerders is geheel en al van die skool afhanklik vir basiese benodigdhede soos skoolklere en skryfbehoeftes…”

“Ons skool help met van klein dringende mediese prosedures wat ouers nie kan bekostig nie tot wintersklere en skoene…”

“Met ons skool se herwinningsprojek probeer ons geld insamel om kospakkies vir ons behoeftige gesinne te kan koop.”

Dit is die behoefte wat ons aan die hart gegryp het en die dryfveer was van ons Skryfbehoefte Drive 2018-2019!

Vandag kon ons onder andere 9491 grys potlode, 3694 blou/swart/rooi penne, 3003 liniale, 2647 uitveers, 412 pennesakkies, 130 skêre, 124 skerpmakers, 86 pacers, 73 stelle kleur potlode, 67 buisies gom, 60 permanent marker koki’s, 50 sakrekenaars asook highlighters, boekies, uitdraaikryte, plakkers, bou blokkies, legkaarte, verf, stempels, sticky notes, zip sakkies, vetkryte, krammasjiene en krammetjies, skuifspelde en wit bord penne uitdeel aan die 5 genomineerde begunstigdes: Laerskool Boerefort, Laerskool Tuinrand, Laerskool Kameeldrift, Laerskool Voortrekker Eeufees en Laerskool Genl. Nic Smit.

(Ons tel regtig elke potlood, want elke potlood tel!)

Baie, baie dankie aan elkeen wat op ‘n manier bygedrae tot die projek! In besonder vir:
– King Price,
– Toys for Africa,
– Nicolene Snyman van Soft Workshop,
– Charl van der Sluis van Office National,
– Willy Mills van Openserve en Retha van Pilot Pens SA,
– Annelé Louw wat haar prysgeld van ‘n kompetisie wat sy op lug gewen het, geskenk het,
– Mariette Bond en Laerskool Totiusdal en
– Afrikaans Meisies Hoër wat weereens hulle hart vir ons stad gewys met ‘n GROOT insameling van allerhande kleurvolle skryfbehoeftes!
– Hein en Hannetjie Greyling van 10 uit 10 Skryfbehoeftes in Centurion het R3000 se wit tik papier geskenk,
– Jaco Roos Prokureurs het weereens ‘n R10 000 skenking gemaak en
– Die span van kykNET se Getroud met Rugby sepie het die wins van hulle spoggerige 2019 kalender ook geskenk!

Altus Theart, Marijke van der Westhuizen, Christel van den Bergh, Pierre Breytenbach, Claudia Jones en Melissa Willering het almal die uitdeelgeleentheid meegemaak en met die kinders gesels oor die groot klomp mense wat lief is vir hulle en wil sien hoe hulle met harde werk hulle drome verwesenlik!

Deel die artikel met jou vriende: