Amanda van Tonder wou vandat sy kan onthou ‘n onderwyseres wees, maar toe sy matrikuleer in 1993 was daar min tersiêre instellings wat voorsiening gemaak het vir persone met gestremdhede.  Dit was eintlik ondenkbaar vir iemand soos sy met cerebral palsy om ‘n onderwyseres te word!  Daar was een instansie wat gesien is ‘n fasiliteit met die minste inspanning, maar die enigste kursus vir haar was om sekretaresse te word.  Daarna het sy vir 13 jaar in kliënte-sorg gewerk, verkope gedoen en ‘n winkel- en ook call centre bestuur voor sy uiteindelik op 40 besef het – ‘n mens hoef nie op jou voete te staan om ‘n onderwyser te wees nie!  Sy het haar onderwys-studies deur UNISA begin en nou op 43 leef sy haar droom op ‘n besonderse manier!

Sy het “Today’s Achievers” begin wat ‘n tuisonderrigprogram gebruik om Graad 4 tot 8 leerders met fisiese, maar ook leeruitdagings te akkommodeer in ‘n gemaklike leeromgewing waar elke unieke kind teen sy eie tempo en vermoë kan vorder.  Sy beklemtoon individuele aandag en een op een sessies, want kinders is nie dieselfde nie, maar elkeen moet gehelp word om hulle potensiaal te verwesenlik!  Omdat Amanda self nie trappe kan klim nie, moes sy ‘n sentrum soek wat ruim genoeg is en toeganklik vir haar eie en ook haar leerders se rolstoele.  En so tussen hakkies – sy vra nie vir spesiale behandeling vir persone met gestremdhede  nie, net fasiliteite wat gepas is en respek.  Die beperkings van iemand se fisiese liggaam is nie ‘n weerspieëling van hulle verstandelike vermoë nie!

En net nog so ‘n stukkie mooi…  Toe Amanda die dag ons storie van Divinette Streicher hoor, die 10 jarige dogtertjie wie se blindederm gebars het, maande in die hospitaal was en nie weer hierdie jaar sal kan terug gaan skool toe nie, was sy die een wat dadelik aangebied het om Divinette te help!

Met komplimente van ons vriende by SPAR​, kan ons vandag ‘n belegging van skryfbehoeftes maak in iemand wat so prakties die beginsel van “jou mense is my mense” uitleef!  Dankie Amanda en ons wens jou seën en voorspoed toe vir jou sentrum en die nuwe kwartaal wat voorlê!

#FindYourWingz

Deel die artikel met jou vriende: