Willie Nortje is 15 jaar oud. Hy weeg net 19kg en is 1.25m lank. Hy is op 9 April 2003, so 2 maande te vroeg gebore en is op 14 maande gediagnoseer met ‘n baie seldsame “De Barsy Cutis Laxa” sindroom. Hy is die enigste persoon in Suid-Afrika met hierdie sindroom en wêreldwyd is daar slegs 27 kinders.

Willie het al ‘n brein operasie, operasies op sy oë en 7 spinale rugoperasies gehad en steeds het hy elke dag van sy lewe rugpyn. As gevolg van erge skoliose, druk sy hart en linker long teen mekaar wat maak dat hy sukkel om asem te haal. Sy pediater het voorgestel dat Willie nie meer skooltoe mag gaan nie a.g.v sy swak longe en dat hy nou permanent op ‘n suurstofmasjien moet wees. ‘n Masjien wat nie buite die huis kan of mag gaan nie en beteken dat hierdie gesin al vir meer as ‘n jaar net in die huis is. Willie kan nie eers buite loop of met sy nuwe hondjie speel nie en hy mis sy maats van Alma School waar hy was.

Ma Alet het gehoor van ‘n suurstofmasjien wat met batterye werk, maar die koste van so ‘n mobiele suurstofmasjien is vir hierdie hegte gesin wat nog ‘n gestremde seun het, net te veel om by te bring. Hulle oudste seun Hendrik (23) lei aan o.a. epilepsie en die aanvalle het ongelukkig breinskade veroorsaak. Die ouers wat self sukkel met hulle gesondheid – Pappa is in remissie na hy vroeer met kanker gediagnoseer is en Alet sukkel met hartversaking – was bereid om hulle enigste kar te verkoop om vir hulle seun ‘n bietjie normaliteit te kan gee…

Maar toe Tannie Martie van #EdnaMedicalEquipment waar ons span vanoggend hierdie gesin gaan ontmoet het, die faktuur so oor die tafel aangee, was dit Engela Wissing van Vision Properties wat “PAID!” bo oor geskryf het!

‘n GROOTfm.90.5 dankie aan #VisionProperties vir Willie se suurstofmasjien, maar selfs meer as dit – die vryheid om saam met sy ma en boeties ‘n milkshake te kan gaan drink!

Deel die artikel met jou vriende: