Die wins van Cosmo Industrial se 2017 #COSMORun saam met die anonieme borge van Jireh Foundation het op Donderdag, 10 Mei 2018 vir oom Hennie van SAVF Huis Silversig die geskenk van beweging gegee!

Ons het almal saam #Hemelvaart gevier en die sangeres, Petronel Baard en saksofoonspeler, Boesman Keyser, se “Diva Galore” Gauteng-toer het ‘n draai kom maak met nostalgiese musiek wat die 110 inwoners met tye ‘n traan laat pik het en dan sommer spontaan laat saam sing het. Bederfpakkies, milo en kolwyntjies, ook vir die 50 personeellede van #HuisSilversig, is na afloop van die mooi program vir elkeen uitgedeel!

#HuisSilversig is ‘n fasiliteit waar verswakte ouer persone versorg word. Meeste is #SASSA pensioenarisse wie se R1600 per maand net eenvoudig nie genoeg is om in hulle basiese behoeftes te voorsien nie. Hulle naasbestaandes is baie keer ook nie in staat om enige bydraes te maak nie. Ons het gehoor van Oom Hennie wat van sy geboorte af gestremd is en nie kan praat nie. Hy gebruik ‘n stuk karton om die alfabet te tik. Sy elektriese rolstoel wat na 10 jaar se gesukkel onherstelbaar was, was ook die rede hoekom hy nie meer in die tuin kon gaan sit en self beweeg nie.

Die bydraes van die #COSMORun2017 en Jireh Foundation het vir oom Hennie ‘n splinternuwe battery aangedrewe rolstoel gekoop ter waarde van #R30000 wat gesorg het vir ‘n groot glimlag op oom Hennie se gesig en vele nat oë onder ons span.

Dankie Lindie Strydom Vol dat jy so hard werk om seker te maak almal loop met vol harte, nat oë en ‘n nuwe uitkyk op lewe weg! Die werk wat jy doen en jou “Rooikappie” stories om net mense bymekaar te bring is inspirerend.

Deel die artikel met jou vriende: