WELKOM BY GROOTFM 90.5

GROOTFM is ‘n radiostasie met ‘n kommersiële basis en ‘n sterk gemeenskapsbelang, wat in Afrikaans uitsaai en die groter Pretoria metropool bedien.

Goeie Afrikaanse musiek en internasionale kontemporêre musiek vorm die kern van die stasie en is ook vermeng met lekker gesels oor die relevante sake van die dag.

LAAI NOU ONS APP AF...
Mobi siteIOS
Marvin Gaye Ft Megan Trainor - Charlie Puth

GoeieNuusVrydaglogo

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

#GNV - 1 JULIE 2016

~ Ouers en vriende van die Hoërskool Menlopark in Pretoria se skoolkoor kan hierdie week net van groot dankbaarheid getuig. Die skoolkoor wat Dinsdag via Turkye na Rusland gevlieg het om aan die komende Wêreldkoorspele in Sochi deel te neem het hulle bestemming veilig bereik, ná kommer oor hul veiligheid weens die aanval op die Ataturk-lughawe in IstanbulMinstens 44 mense is dood en meer as 200 is gewond toe drie selfmoord-bomaanvallers toegeslaan het. Die skool se adjunkhoof Nico Erasmus sê die vlug waarop die koorlede was het wel op díe lughawe geland, maar dat hulle buite gevaar was.  Een van die koor se lede Suné Stander het kort voor hul vertrek met #GROOTnuus oor hul voorbereiding vir die Wêreldkoorspele gepraat.

~ As diamante ‘n vrou se beste vriend is, dan het die bekende aktrise Shaleen Surtie-Richards meer as ‘n beste vriend in Mr Kruger ontmoet.  Mr Kruger wat ’n spesialis in juweliersware is, se eienaar, Arno Egen van Pretoria, sê hy het besluit om aan te bied om haar juwele op Mr Kruger se onkoste te vervang, toe hy gehoor het dat Shaleen in Januarie deur ’n straatsmous van juwele met baie sentimentele waarde beroof is, terwyl sy in ’n motor gesit het.  Shaleen sê sy is baie dankbaar teenoor Mr Kruger en veral Arno vir die juweliersware wat sy vroeg in Junie-maand as geskenk gekry het.

~ Die Kleintreetjies Kleuterskool in Booysens in Pretoria se probleme met betroubare vervoer vir die kinders is iets van die verlede, na ‘n vrygewige skenking.  HW Theron Ingelyf in Monument Park het op die 8ste Junie ‘n minibus ter waarde van sowat R300k aan die kleuterskool oorhandig.  HW Theron Ingelyf se direkteur, Hennie Theron het in Desember 2014 reeds betrokke geraak by díe kleuterskool toe hy as deel van GROOTfm 90.5 se HOOPstoot-projek ‘n rekenaar en drukker wat hulle nodig gehad het voorsien het, en ook die personeel van die skool bederf het met die “Versorg die Versorger”-projek. Hennie sê hy wil die skool in staat stel om die goeie werk in die gemeenskap voort te sit.

~ Suid-Afrikaanse vlieëniers, ‘n vlug-ingenieur, ‘n dokter en ‘n paramedikus het hierdie maand geskiedenis gemaak toe hulle ‘n uiters siek baba per vliegtuig op die eiland Saint Helena gaan oplaai het.  Lede van die nooddiens ER24 se lug-mediese diens, Global Assist, het in samewerking met die Brits-beheerde eiland se regering op die nuwe lughawe geland, wat weens gevaarlike en onvoorspelbare weerstoestande nog nie vir handelsvlugte oopgestel kon word nie. ER24 se Werner Vermaak sê die baba en sy ma is na ‘n Kaapstadse hospitaal geneem vir behandeling.

~ Duisende voormalige lede van Suid Afrika se grootste boekklub het gejuig toe hulle die nuus hoor dat Leserskring/Leisure Books binnekort gaan heropen. Die aankondiging kom sowat 3 maande nadat die geliefde instansie ná 35 jaar gesluit het. Uitvoerende Hoof, Lana Barnett wat aan die stuur van sake bly sê die klubs wat sedert hul ontstaan in 1980 reeds veertig miljoen boeke verkoop het, sal amptelik in Augustus weer bekendgestel word.

~ ‘n Merkwaardige jong man, Louis Lingenfelder, wat fondse insamel vir die Downsindroom  Vereniging Pretoria, het mense van die stad aan die hart gegryp. Louis wat self Downsindroom het, het ‘n donasie boks-projek geskep, toe hy besef het dat die vereniging se geld min raak, en dat gratis terapie wat tans deur uitreikprojekte in Ga-Rankuwa, Atteridgeville en Lyttelton aangebied word, heel moontlik ingeperk sal moet word omdat daar nie fondse beskikbaar is nie. Die Downsindroom se voorsitter Magda Lourens sê hulle is dankbaar vir Louis se inisiatief, omdat die vereniging ‘n tekort van omtrent R80k het om die gratis terapie te kan volhou.

~ As jy nie tyd het om lang nuusberigte te lees nie, maar graag op hoogte wil bly van die jongste nuusgebeure, is daar ‘n nuwe toepassing of app wat die manier waarop jy nuus lees, ten goede gaan verander. Die Afrikaanse nuus-app NetNuus wat onlangs bekend gestel is, se produkredakteur MJ Lourens sê dit is die eerste produk van sy soort in Suid-Afrika wat dié leemte as ’n vinnige en gebruikersvriendelike nuus-app vul, wat die jongste inligting in ’n kits aan lesers bied en ook aan verbruikers die geleentheid gee om saam met ander oor die nuus te gesels.  NetNuus is gratis beskikbaar in die iTunes- en die Google Play app winkels.

~ ‘n Jong Pretoriase man se droom om sy studies te voltooi kan nou bewaarheid word as gevolg van die omgee van ‘n liefdadigheidsorganisasie.  Die man van Elandspoort wat verlede jaar by ‘n hoërskool vir leergestremde kinders was, het vanjaar by ‘n tegniese opleidingskollege begin studeer om ‘n sweiser te word. Solidariteit Helpende Hand het hom gestuur vir evaluering, omdat hy tydens die eksamentyd baie gesukkel het. Helpende Hand se Forika Meissenheimer sê die terapeut wie hom getoets het was verbaas dat hy so ver gevorder het, aangesien hy wanneer dit by lees en skryf kom die gemiddeld van ‘n 8-jarige kind het, maar omdat hy werklik baie goed is met sy hande is daar goedkeuring gegee dat hy sy vraestelle mondelings kan aflê.

~ ‘n GROOTfm 90.5-luisteraar, Tania Bester is dankbaar dat haar seuntjie leef en gesond is, nadat hy amper dood is toe hy in Februarie baie siek geword het. Hy het aanhoudend opgegooi en hulle moes hom ‘n paar keer hospitaal toe neem, omdat hulle nie kon agterkom wat fout is nie. Puik dokters by ‘n staatshospitaal het egter vasgestel dat daar ‘n abses groter as ‘n golfbal op sy blindederm was. Tania sê die dokter wat die operasie gedoen het, beskryf die feit dat haar kind oorleef het, as ‘n wonderwerk.

~ Die Erika Volkspele-laer in Pretoria, wat een van die oudste volkspele-laers in ons land is, het sy 75ste bestaansjaar gevier. Die ATKV Centurion Musiekforum wat al vir baie jare kultuurvennote van die laer is, se Sakkie Kotze wat self voorheen lid van die Nasionale Raad vir Volksang en Volkspele was, sê dit is ‘n besonderse mylpaal vir die Afrikaanse taal en kultuur in die stad.

~'n Kattekoor van dankbaarheid weerklink hierdie maand te danke aan goeie mensharte. Die diere-reddingsorganisasie CatzRus wat hawelose katte inneem, versorg en dan liefdevolle huise vir die diere vind, het ‘n suksesvolle fondsinsamelings-konsert die afgelope naweek gehou waartydens onder meer die bekende sanger Dozi opgetree het. Die organisasie samel tans fondse in omdat hulle na meer as tien jaar by hulle huidige perseel in Pretoria, ‘n nuwe tuiste moet vind, om sodoende hul aktiwiteite te kan uitbrei. Catzrus se voorsitter, Jacques Du Plessis sê dat hulle in die laaste tien maande alleen ongeveer 500 katte ingeneem, en reeds vir meeste van hulle liefdevolle huise gevind het.

~ ‘n Jong man van Pretoria wil sy storie van hoop met die wêreld deel, van hoe hy sy jare lange dwelmverslawing oorkom het. Theo Nel wat 26-jaar oud is, sê hy was vir amper tien jaar lank op dwelms, en dat hy veral ander jong mense se harte wil aanraak.

~ Afrikaanssprekendes is opgewonde oor ‘n nuwe beurs- en studiefonds wat vir studente geskep is wat in dié taal wil studeer. Die studiefonds is gestig nadat die Universiteite van Stellenbosch, Pretoria en die Vrystaat besluit het om Afrikaans as onderrigmedium af te skaf.  Nasionale projekkoördineerder, Morné Mostert sê donateurs en alumni wat ʼn bydrae tot die fonds wil lewer, sal nie net ʼn verskil in Afrikaanssprekende studente se lewens maak nie, maar ook ʼn verskil in die bevordering en ontwikkeling van Afrikaans teweegbring.

Morné sê AfriForum Jeug het onlangs ook aangekondig dat vier Afrikaanssprekende studente aan vier van die land se top hoëronderwysinstellings, elk  ʼn beurs kan wen.

~ Vir meer as 25 jaar vereer die Centurion raad vir bejaardes elke jaar ‘n Senior Burger vir onbaatsugtige gemeenskapsdiens, en word ‘n trofee – bekend as die Arrie Nel wisseltrofee – vir die Senior burger van die jaar toegeken. Die raad se direkteur dr Elma Krüger sê twee vroue – Rina van der Heever en Ansie Subke, het die trofee vanjaar ontvang vir hulle vrywillige werk vir die Lyttleton dienssentrum.

~ Daar is goeie nuus vir Suid-Afrikaners wat lief is daarvoor om tyd in die natuur te spandeer, en wat lief is vir ons land se renosters. ‘n Unieke inisiatief gee die publiek die geleentheid om finansieël by te dra tot renoster-bewaring deur te gaan kamp of ’n naweek in ’n 3-ster lodge op ’n wildsplaas te spandeer.  Rhino Connect se woordvoerder, Karin Venter sê elke bespreking dra by tot die inkomste van privaat renoster-eienaars se wildsplase, wat hulle in staat stel om meer sekuriteit aan te stel om die diere te beskerm. Karin het ook ‘n beroep op mense gedoen om te help om ons renosters vir ons nageslag te bewaar deur betrokke te raak by renoster-bewaring.

~ Pretorianers is erg trots op twee professionele boogskutters van Pretoria.  Seppie Cilliers van die Universiteit van Pretoria se boogskietklub het deurgedring om Suid-Afrika vanjaar op die wêreldbeker-finaal te verteenwoordig. Seppie se spanmaat Shaun Anderson wat net een arm het, en Suid-Afrika en Afrika se voorste gestremde boogskut is, is ook besig om voor te berei om die land te verteenwoordig. Shaun is gekies om aan vanjaar se Paralimpiese Somerspele in September in Rio de Janeiro in Brasilië deel te neem. 

~ ‘n Paar dapper Pretorianers het op die tiende Junie die koue trotseer om Child Welfare Tshwane se ‘uitslaap in die koue’-inisiatief  te ondersteun, en ook meer te leer van die organisasie se werksaamhede. Child Welfare Tshwane wat weerlose kinders in die stad versorg en maatskaplike dienste aanbied wat daarop gemik is om familiebande te verstewig, se bemarkingsbestuurder, Hanlie Delport sê daar is tydens díe aksie in die tuin van die Bramley Kinderhuis gekuier en sommige van die besoekers het selfs in die tuin oornag.

~ ‘n Luisteraar, Heinrich Pretorius, wat sy skouer spiere afgeskeur het toe hy met sy fiets geval het, deel sy goeie nuus dat hy so goed herstel het, dat hy sterker is as ná die ongeluk.

~ ’n Nuwe webtuiste, afrikaans.com is geskep om as ’n vertrekpunt vir alles wat met Afrikaans te doen het te dien, waar jy die taal kan vier en verken.  Woordvoerder Heinrich Wyngaard sê dit vorm deel van die Dagbreek Trust, in samewerking met enersdenkende organisasies en rolspelers, se omvattende veldtog om Afrikaans opnuut stukrag te gee, en as ʼn sterk handelsmerk te vestig.

~ ‘n Dapper Gautenger wat nou as ‘n held beskou word, het die lewe van ‘n vrou en haar baba gered, sonder om twee keer te dink.  Madeleine van der Vyver en haar ma het in Centurion in hulle motor by ‘n rooi verkeerslig gesit, toe hulle sien hoe ‘n vrou beheer oor haar voertuig verloor en in ‘n dam beland. Madeleine het uit haar motor gespring en na die dam toe gehardloop en ingespring om die vrou te probeer red. Toe sy by die voertuig kom het sy ‘n baba binne hoor huil, en sy kon met ‘n groot gesukkel uiteindelik die kattebak oop kry, waar sy eerste die baba kon uitkry en na die oewer kon neem. Sy het daarna terug geswem om die vrou te probeer red, terwyl die motor besig was om te sink, en sy kon gelukkig daarin slaag om haar ook veilig uit te kry.

~ Op die 1ste Julie in 2013 het ‘n klomp vreemdelinge met uiteenlopende talente op hul eerste werksdag saam, bymekaar gekom om die fondasie te begin lê vir ‘n nuwe radiostasie wat die volgende maand sou begin – dit was die personeel van GROOTfm 90.5. Inhoudsbestuurder, Francois Botha, wat van dag een af by die radiostasie betrokke is, sê vandag is dit drie jaar later -  daar het vele gesigte by die span aangesluit en die stasie het baie vooruitsigte vir die toekoms.

Comments  

 
0 #1 Больше на сайте 2017-04-15 06:33
Pretty! This was an extremely wonderful post. Many thanks for providing these details.
Quote
 

Add comment


Security code
Refresh